Carien* is ‘n stil sewe-jarige dogtertjie met skrefies ogies, ‘n gladde bo-lippie en sy het gedurig ‘n loop neusie of hoesie.  Sy is haar pappa en mamma se enigste poplap.  Sy het af en toe kleuterskool bygewoon, nie te gereeld nie, net wanneer daar geld was, mamma moet maar hul sente omdraai. 

Carien se ouers het nie hul eie skoolloopbane voltooi nie.  Carien het ‘n huisbly-mamma.  Haar pappa werk nie lank by een plek nie, dan kry hy weer ‘n ander werk.  Carien gaan volgende jaar grootskool toe, Graad Een!  Niks behalwe haar ouderdom sal hierdie mylpaal en groot gebeurtenis verraai nie, want daar is nog geen sprake van “my graad een parrabeen word so groot” om die kombuistafel of die aanpas en soom insit van ‘n stokstywe, maar splinternuwe skoolrokkie nie, nog minder die rondskarrel na die regte potlood, HB of 2H?, soos op my juffrou se lysie…

Nee, elke dag is nog steeds dieselfde – pappa gaan werk, sy en mamma is by die huis, pappa en mamma drink.  Ja, pappa en mamma drink te veel.  Carien se mamma en pappa het vergeet hoe dit voel om ‘n graad een parrabeen te wees, dat daar groot opgewondenheid is vir die groot skool, ook bietjie skrik, baie nuwe ervaringe, en verwagtinge.  Hulle het vergeet of het hulle dalk nie geweet nie…?  Hoe jy dié resies begin, bepaal in ‘n groot mate of jy aanhou, uithou, volhou en moedhou.  Carien se vooruitsigte was donker.

Carien het ‘n Lig vir ‘n Kind-skooltassie met al haar skryfbehoeftes vir graad een ontvang.  Al het haar mamma en pappa nagelaat om haar voor te berei en toe te rus vir die begin van haar skoolloopbaan, het sy met die Lig vir ‘n Kind-tassie die ondersteuning gekry om haar skoolloopbaan positief en toegerus, af te skop.  Hierdie tassie was ‘n lig in Carien se donker toekoms.  Nou, twee jaar later is Carien steeds in die skool.  Ten spyte van die donkerte in haar lewe hou sy aan om skool toe te gaan, hou sy uit wanneer die takies moeilik is en hou sy moed as dit onmoontlik lyk!

Carien woon sedert haar graad een jaar by haar ouma – sy is gelukkig en dit gaan goed met haar. *Skuil

Lize Fouchè

Maatskaplike werker

Nylstroom Kantoor