[vc_row][vc_column][vc_column_text]

VAN: Kommissie van die Algemene Diakensvergadering

AAN: Predikante

Diakens

Ringskommissies

ADV OMGEE 3 VAN 2020

 

Broers en susters

Hulpverlening deur gemeentelike diakonaat te midde van Covid-19-grendelstaat

Gelowiges en gemeentes is deur Christus geroep om mekaar lief te hê en mense in nood by te staan. Die Covid-19 pandemie en gepaardgaande grendelstaat, het ons almal egter in ongekarteerde terrein gelaat waar min van ons ʼn idee het hoe om ons roeping prakties en effektief uit te leef. Immers, talle van ons is self geskok, ontnugter, bekommerd en getraumatiseerd. Eerstens wil ons u hiermee verseker van ons voorbidding en julle ook aanmoedig om vir mekaar te bid.

Die tweede saak waaroor die Kommissie van die ADV saamgedink het, is dat ons vermoed die finansiële krisis gaan groot en verreikend wees. Die nagevolge van die ekonomiese ineensinking gaan nog lank deur mense gevoel word. En noodwendig is dit die mees weerlose mense in ons gemeentes en gemeenskappe wat die hardste getref gaan word.

Die tema van die ADV vanjaar is 20 treë in die voetspore van Christus. Min het ons gedink dat die eerste tree een sou wees van ‘n pandemie met wetgewing wat ons verplig om van mekaar weg te bly. Tog glo ons dat ons kreatief kan soek na maniere om diegene in nood steeds by te staan. Gevolglik het ons begin dink aan maniere hoe ons, as Kommissie van die ADV, gemeentes kan ondersteun. Dit bring ons derdens by voorstelle wat gemeentes kan oorweeg:

  1. Dit is van kritieke belang om kontak te hou met die gelowiges wat aan ons sorg toevertrou is. Al kan dit nie in persoon gebeur nie, bied telefoon, teksboodskappe en sosiale media verskeie platforms waarmee ons kan kontak behou. Dit is veral belangrik om kontak te hou met ons bejaardes en weerloses.
  2. Daar is mense wat nie deur elektroniese kommunikasie bereik kan word nie, oor wie u bekommerd mag word. Hoe langer die pandemie aanhou, mag dit ook gebeur dat meer en meer mense nie meer telefone en data kan bekostig nie. ʼn Goeie idee is om met u plaaslike SAPD of sekuriteitsmaatskappye te reël om ʼn ogie oor hierdie mense te help hou.
  3. Waar voedselhulp verleen moet word, kan ʼn gemeente by hulle plaaslike SAPD probeer toestemming kry om voedselpakkies te versprei. Ons dra kennis van ʼn gemeente wat toestemming gekry het by die SAPD om voedselskenkings te gaan haal, verpak en te versprei. Ook hier kan sekuriteitsmaatskappye van hulp wees.
    • ʼn Pro-forma brief wat moontlik mag help om toestemming by die SAPD hiervoor te vra, is aangeheg. Daar is egter geen sekerheid of dit deur die SAPD aanvaar sal word nie.
    • Wanneer toestemming verkry is, kan plaaslike gemeente skrywes voorsien aan diakens wat toestemming vanaf die SAPD bevestig.
  4. Nog ʼn voorstel is om van supermarkte en apteke se afleweringsdienste gebruik te maak om kos en medikasie aan te koop en te laat aflewer by mense wat dit nodig het.
  5. Aangesien die ADV bestaan uit diakens uit ons gemeentes, geld die beginsel dat die ADV deur ons gemeentes wil werk. Daarom bied ons hulp aan uit die ADV Rampfonds vir gemeentes om hulle te help om hulp te verleen op grondvlak. Stuur asseblief ʼn epos met u versoek aan diens@diakens.co.za
    • Sodanige versoek moet asb ook via u ringskommissie gedoen word. Die beginsel geld altyd dat waar ʼn gemeente hulp nodig het, die versoek eerstens na die ringskommissie gestuur word vir hulp. Indien die ring nie kan help nie, sal die ADV hulp verleen. ʼn Bevestigende skrywe vanaf die ringskommissie sal ons help om die aansoek vinniger te oorweeg.
  6. Deel met ons die suksesverhale en kreatiewe idees wat vir u gemeente werk. So kan ons mekaar aanspoor, aanmoedig en van hulp wees.

Laastens is ons bewus van gemeentes, individue en besighede wat ʼn bydrae wil maak tot die rampfonds. Sodanige bydraes kan by die Raad van Finansies inbetaal word met verwysing 16RAMP + gemeentenaam. Wanneer belastingvrystelling (Art 18A) verlang word, moet dit in Plesion NPC se rekening inbetaal word. Kontak my by gerhard@diakens.co.za vir die nodige inligting.

Die ADV Kommissie bid u almal, gemeentes, predikante, diakens en gelowiges, die Here se seën toe in hierdie tyd. Ons bid vir u veiligheid, u gesondheid en ook dié van u geliefdes. In Christus is daar vir ons hoop, en in Christus se voetspore bring ons die hoop aan dié wat dit nodig het.

Saam in diens

 

Ds Gerhard Stoltz

Sekretaris: Kommissie van die Algemene Diakensvergadering

0828725236

gerhard@diakens.co.za

Ons dien, gehoorsaam aan God.

[/vc_column_text][/vc_column][/vc_row]